NOK POSDUIFUNIE


Agtergrond en Ontstaan

Hierdie Posduifunie is waarskynlik die grootste unie in die land.  Nie soseer groot in die getal lede nie, maar beslis in oppervlakte, want die geografiese grense omsluit ongeveer 81,000 vk. km en sluit 'n baie groot gedeelte van die sentrale deel van Suid-Afrika in.  (Kaart hieronder) 
Die Unie het in 1981 tot stand gekom as die resultaat van inisiatief wat geneem is deur lede van die klubs in Cradock, Graaff-Reinet, Middelburg en Noupoort.  By die stigtingsvergadering, wat in Middelburg gehou is, is elkeen van bogenoemde klubs deur drie lede verteenwoordig.  Volgens die rekords van die Unie was die volgende persone teenwoordig: AJ Cilliers, HA Geyer en CJ Joubert van Cradock; JG Bonthuys, MC Lombard en EM Meyer van Middelburg; P Els en WJ van der Merwe van Graaff-Reinet; PJ Fourie, FB Gillmer en C Muller van Noupoort.  
Die eerste bestuur was:  Voorsitter: EM Meyer (Middelburg), Ondervoorsitter: FB Gillmer, Sekretaris/Tesourier: HA Geyer (Cradock), met J Cilliers van Cradock en PJ Fourie van Noupoort as addisionele lede.   
Drie sake was van baie groot belang, naamlik affiliasie by die destydse SAPU (Suid-Afrikaanse Posduifunie), vervoer van wedvlugduiwe en 'n grondwet vir die nuut gestigte Unie.  Aansoek om affiliasie by SAPU is onmiddellik gedoen.  'n Komitee is aangewys om aandag te gee aan alle aspekte wat verband sou hou met die vervoer van wedvlugduiwe.  Onder voorsitterskap van CJ Joubert het die komitee aandag gegee aan al die aspekte wat die vervoer sou raak. Klubs het onderneem om met fondsinsamelings te begin om geld beskikbaar te hê vir die finansiering van 'n eie voertuig.  'n Grondwetkomitee is aangewys met die opdrag om 'n grondwet vir die Unie op te stel.  Op 24 November 1982 is die eerste grondwet van die Unie goedgekeur.   Op 09 Februarie 1983 word besluit om 'n eie voertuig aan te koop sodat ten minste 22 wedvlugmandjies vervoer kon word.
Tydens die Algemene Jaarvergadering in 1982 is FB Gillmer tot voorsitter verkies ('n posisie wat hy beklee het tot in 2011) en CJ Joubert as ondervoorsitter met HA Geyer as sekretaris en D Joubert as tesourier.  Tydens dié vergadering is Colesberg ook as klub tot die Unie toegelaat.  Tydens die Raadsvergadering van 10 April 1984 is bes­luit om 'n stel wedvlugreëls vir die Unie te aanvaar.  
'n Baie beskeie begin in die dae toe vier klubs die vergesig gehad het om iets konstruktief te doen om duiwesport in die platteland uit te bou en in elke klein dorpie tot sy volle reg te laat kom.  Tans bestaan die Unie uit die volgende klubs (in alfabetiese volgorde): Aliwal-Noord (wat ook Sterkspruit insluit), Barkly-Oos, Burgersdorp, Carnarvon, Colesberg (wat ook Philippolis insluit), De Aar (wat ook Britstown insluit), Jamestown, Kamdeboo en Merino (in Graaff-Reinet) - laasgenoemde sluit ook Aberdeen in, Luckhoff, Middelburg, Noupoort, Philipstown en Richmond.
In 2012 is FB Gillmer deur Paul Viljoen (Colesberg) as voorsitter opgevolg en Arthur Strydom (De Aar) is as ondervoorsitter verkies in die plek van Paul Viljoen.  In 2013 is Pedrie van der Merwe  (Philipstown) tot voorsitter verkies met Arthur Strydom (De Aar) as ondervoorsitter.  In 2014 en 2015 was Pedrie van der Merwe die voorsitter met Paul Viljoen die onder-voorsitter.  In 2016 is Paul Viljoen as voorsitter en Arthur Strydom as ondervoorsitter verkies.  In 2017 is Paul Viljoen deur Arthur Strydom opgevolg met Jacques Grobbelaar as ondervoorsitter.
Uit die foto-en artikelargief van 1993 kom die volgende  foto's van 'n veiling en die prysuitdeling van dieselfde jaar.
(Blaai asseblief in julle ou rekords rond en stuur vir ons die foto's en artikels uit ons Unie se ryke geskiedenis.)

Make a free website with Yola